Spaanse Sosialiste wil regeer

Die amptelike opposisie in Spanje se pogings om ’n koalisieregering te vorm word beklemtoon in hulle jongste verklaring om ’n referendum te hou oor Katalonië se onafhanklikheid.

Pedro Sánchez, leier van die Sosialiste Party het bekend gemaak dat sy party onderneem om ’n referendum te hou as hy die regering van die land is, en nooi daarmee die ander kleiner partye om saam met hom ’n koalisieregering te vorm.

Die jongste ontwikkeling volg nadat geen politieke party ’n meerderheidsteun kon verwerf in die pas afgelope verkiesing van Spanje nie.

Die regerende “Popular Party” van die Eerste Minister, Mariano Rajoy, kon slegs 123 van die 350 setels verower, en geeneen van die ander drie partye is bereid om ’n koalisie met die regerende party te vorm nie.

Die Sosialiste het 90 setels verower, en probeer nou ’n koalisie saamstel uit die oorblywende vêr-linkse Podemos party wat verlede jaar tot stand gekom en 69 setels ingepalm het.

Minstens 176 setels is nodig om ’n meerderheidsregering saam te stel, wat beteken dat die Sosialiste ook ’n ooreenkoms met die ander party moet aangaan wat 40 setels verower het as hy met ’n volstrekte meerderheid wil regeer.

Ontleders meen egter dat Spanje se kiesers nou ’n politieke krisis veroorsaak het wat die land duur te staan kan kom.

Die twee partyleiers ontmoet mekaar op 2 Januarie in ’n poging om die dooiepunt uit die weg te ruim en ’n regering saam te stel.

Die Sosialiste met 90, en die linkse Podemos met 69 setels sal volgens kenners nie ’n wenspan wees nie aangesien die politieke sienings wyd van mekaar verskil

Podemos het vroeër verklaar dat die party sal seker maak die huidige regeerders sit in die opposisiebanke, wat beteken dat hy gereed is om in koalisie met die Sosialiste te gaan.

Foto – Pedro Sánchez