Spaanse regering uitgeknikker

Dit blyk dat die konserwatiewe regering van Spanje die stryd om te regeer, verloor nadat die politieke partye in die land verklaar het dat hulle nie bereid is om in koalisie te gaan met die wenner-party van die Eerste Minister nie.

Die regerende party van premier Mariano Rajoy kon nie ’n volstrekte meerderheid behaal in die afgelope verkiesing nie, en sou ’n koalisie regering moes vorm met een van die partye wat verlede jaar tot stand gekom het.

Die partye het egter te kenne gegee dat hulle juis weggebreek het van die regerende party en wil met ’n meer linkse, en liberale beleid die land regeer, wat beteken dat hulle nie met die regerende Volksparty in koalisie wil regeer nie, maar eerder met die Sosialiste.

Die volksparty kon slegs 123 setels verower van die 350, wat veels te min is om alleen te regeer, terwyl die Sosialiste as amptelike opposisie 90 setels verower het.

Waarnemers meen die kanse is skraal, maar nie uitgesluit nie dat die twee partye ’n koalisie kan vorm om die twee nuwe partye uit die kussings te hou.

Een van die seniors in die Sosialiste Party, Cesar Luena, het tydens ’n nuuskonferensie gesê Spanje het gestem vir verandering, en dit gaan gebeur. As die Volksparty pogings aanwend om ’n regering saam te stel sal die Sosialiste nie beskikbaar wees vir ’n koalisie nie.

Die vêr-linkse “Podemos party”, het in sy reaksie gesê die party sal nie met die Volksparty in ’n koalisie gaan nie, wat beteken dat die Eerste Minster in ’n doodloopstraat gekom het.

Die leier van die “Podemos” sê in ’n verklaring hulle gaan nie toelaat dat die Volksparty die land regeer nie.

Die leier van die “Ciudadanos Party” het deurlopend die standpunt gehuldig dat hulle met geen ander party in koalisie sal gaan nie.

Dit beteken dat die Sosialiste en die vêr-linkse Podemos met mekaar moet onderhandel om ’n regering te vorm.

Podemos het  69 setels, en saam met die Sosialiste se 90 setels kan die twee partye nog nie as ’n meerderheid regeer nie.

Die koning moet nou ’n uitnodiging rig aan die Volksparty om ’n regering saam te stel omdat dit die party is wat die meeste stemme gekry het.

Die parlement het dan twee maande tyd om ’n Eerste Minister te kies, maar indien daar nie geslaag word om ’n regering saam te stel nie sal ’n nuwe verkiesing uitgeskryf moet word.

Die Volksparty het geweldig baie steun verloor weens sy klaarblyklike onvermoë om korrupsie hok te slaan.

Waarnemers meen die druk van Katalonië sal nou hewiger word op Spanje om onafhanklikheid te beding.

Foto – Pablo Iglesias, Podemos leier