Sondagkoerant bied verskoning aan Gordhan

Ingevolge ‘n beslissing van die persombudsman, Johan Retief, het die Sunday Times op sy voorblad die nuwe Minister van Finansies, Pravin Gordhan, om verskoning gevra omdat hy nie ‘n repliek kon lewer op ‘n berig waarin hy by ‘n sogenaamde rogue unit in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) betrek is.
Die koerant moes ook twee voormalige senior amptenare van die SAID, Ivan Pillay en Johann Van Loggerenberg, om verskoning vra.
Dít volg nadat Retief bevind het dat die Sunday Times se stories oor die beweerde eenheid “onakkuraat, misleidend en onbillik” was.
Die koerant het in Oktober op sy voorblad na ‘n konsepverslag van KPMG verwys. Toe die berig in die Sunday Times gepubliseer is, was die finale verslag nog nie uitgereik nie, maar dit is nie in die berig gemeld nie.
Retief het onder meer beslis die Sunday Times het die perskode oortree en dat Gordhan nie genoeg tyd gegun is om op vrae rakende die bevindings in ‘n verslag deur KPMG te reageer nie.
Volgens die Sunday Times is hy voornemens om teen verskeie ander bevindings van die persombudsman te appelleer.
Sondag se apologie is nie aan Pillay en Van Loggerenberg gerig nie.