Sjinese president besoek Zimbabwe

Die Sjinese president, Xi Jinping, se tweedaagse besoek aan Zimbabwe het gister ten einde geloop nadat samesprekings van ekonomiese aard gevoer is.

Die byna bankrot Zimbabwe hoop dat die samesprekings met Sjina sal lei tot ’n verbetering in die vertroue om beleggers na die land te trek.

Analiste meen die verwagtinge moet nie te hoog gestel word nie, want dit is reeds die tweede keer dat die Sjinese president besoek bring aan die verarmde land, maar dit het tot hede geen wesenlike verskil gemaak aan die ekonomiese toestand nie.

President Robert Mugabe is reeds vir dekades uitgebak in Westerse kringe, en het vroeër gesê Sjina is sy land se beste vriend, maar dit het weinig bygedra tot ’n verbetering in die ekonomie.

In 2014 het Mugabe twee besoeke aan Sjina gebring in ’n desperater poging om verligting te kry vir sy sinkende ekonomie, maar dit was nie van veel waarde nie.

Na sy besoeke aan Sjina het Mugabe aangekondig dat “mega handelsooreenkomste” met Sjina aangegaan is wat ook multi-miljard infrastruktuur ontwikkelings sou meebring, wat ondermeer nuwe spoorlyne, energiesentrales en telekommunikasie-opgraderings sou beteken, terwyl groot landbou projekte aangepak sou word.

’n Jaar het verby gegaan en daarvan het dadels gekom.

Waarnemers sê die Sjinese se hulp is langtand aangebied aangesien hulle sterk politieke leierskap verwag om die inisiatiewe suksesvol deur te voer, en dit ontbreek nog in die land.

Foto – Pres. Xi Jinping en pres. Mugabe