Sjina wil beeste kloon

Sjinese wetenskaplikes wat kennis geneem het van die stygende vraag na beesvleis in Sjina, het besluit om ’n program in werking te stel om die enorme aanvraag so te verlig.

Die land wil glo, volgens ’n berig in “Globalmeat”, jaarliks sowat 100,000 embrio’s kloon in ’n nywerheidsaanleg by Tianjin.

Met die beoogde projek word die bio-tegnologie tot hemelhoë vlakke gebring en sal blykbaar enige vorige soortgelyke kloning grootliks oortref.

Vanweë die groter wordende aanvraag na beesvleis wat in Sjina ondervind word, het die vleispryse na onbekostigbare vlakke gestyg, en die wetenskaplikes glo die grootmaat kloon-projek kan ’n noemenswaardige bydrae maak tot die lewering van beesvleis, en sal die prys tot ’n groot mate in bedwang hou.

Die projek sal later uitgebrei word om derduisende klonings elke jaar te doen by die betrokke aanleg.