Saudi Arabië gee vroue stemreg

Vir die eerste keer in die bestaan van Saudi Arabië mag vroue stem tydens munisipale verkiesings, en kan hulle hulself beskikbaar stel as kandidate.

Dit het daartoe gelei dat ’n aantal vroue oorwinnings behaal het in verskeie munisipale rade, wat as ’n deurbraak vir vroueregte in die land beskou word.

Ontleders sê dit is ’n nuwe mylpaal wat bereik is in die andersins konserwatiewe land waar vroueregte nie bestaan het nie.

Alhoewel vroue nou die reg het om te stem, mag hulle steeds nie motor bestuur nie, en word dit steeds as ’n alleenreg vir die manlike geslag beskou.

Tydens die pas afgelope munisipale verkiesing was 79 van die 6,917 kandidate, vroue wat meegeding het in 284 munisipale rade.

Die verbasende is dat slegs sowat 10% van die kiesers wat aan die verkiesing deelgeneem het, was vroue, wat die vermoede laat bestaan dat daar steeds ’n vorm van intimidasie toegepas word.

Waarnemers wys daarop dat baie vroue nie gaan stem het nie aangesien hulle nie by stembusse kon kom nie omdat hulle nie mag motor bestuur nie.

Na wat berig word, is Saudi Arabië die laaste land wat vroue verbied het om te stem.

Foto – Vroue by die stembus