Russe skiet waarsku-skote na Turkse boot

’n Russiese oorlogskip het verskeie waarskuwingskote afgevuur op ’n Turkse vissersboot in die Middellandse See, tussen Griekeland en Turkye.

Die waarskuwingskote is afgevuur om ’n botsing tussen die twee vaartuie te vermy nadat dit geblyk het dat die vissersboot nie bewus is van die naderende oorlogskip nie.

Die inligting is Sondag deur ’n woordvoerder in Moskou bekend gemaak, en het gesê die skote is afgevuur toe die vissersboot in die rigting van die oorlogskip beweeg het en sowat 500 meter van die reuse skip was.

Die voorval is later deur die Russiese Minister van Verdediging in ’n amptelike verklaring bevestig.

Hy sê waarskuwingskote is met ligte vuurwapens afgevuur, waarna die Turkse vissersboot sy koers verander het sonder om verskoning aan te bied.

Die voorval het daartoe gelei dat die Turkse militêre attaché in Moskou op die rooi-mat voor die Russiese ministerie van Buitelandse Sake was om die voorval te verduidelik.

Die voorval word deur waarnemers beskou as nog ’n geleentheid wat die spanning tussen die twee lande verhoog, en die vermoede bestaan dat die Russe elke insident benut om die verhouding verder te vertroebel.