Russe dood talle rebelle

Vegvliegtuie van die Russiese Lugmag het die afgelope naweek verwoesting gesaai en minstens 60 mense gedood in aanvalle op ’n Siriese stad wat deur rebelle beset is.

Die bomme wat op talle geboue gegooi is, het reddingswerkers genoop om onder die puin te soek na lewendige slagoffers.

Dit blyk dat meer as 30 mense onder die puin uitgehaal is, alhoewel dit nie bekend is hoeveel van hulle lewendig gevind is nie.

Russiese vegvliegtuie het minstens ses aanvalle op die stad Idlib uitgevoer wat deur rebellemagte beheer word wat stry teen die regering van president Bashar al-Assad van Sirië.

Rusland het sy standpunt van vroeër bevestig dat die rebellemagte wat deur die VSA gesteun is, dieselfde behandeling moet kry as die IS-terroriste.

President Poetin van Rusland het gesê alle magte wat teen ’n wettig verkose regering veg, is terroriste en moet uitgewis word.

Dinsdag het ’n woordvoerder in Sirië bekend gemaak dat Russiese aanvalle minstens ’n verdere 300 rebelle gedood het in ’n vlaag missiele wat afgevuur is in die noorde van die land.