Rekord aantal joernaliste gedood

Joernaliste Sonder Grense (RSF) het in sy mees onlangse verslag bekend gemaak dat 67 joernaliste in die uitvoering van hulle dagtaak, gedood is gedurende die jaar.

Benewens die 67, is ’n verdere 43 joernaliste onder vreemde omstandighede dood en is daar nie duidelikheid oor wat die oorsaak vir hulle dood is nie.

Die verslag meld ook dat ’n bykomende 27 nie-professionele “burgerlike joernaliste” ook omgekom het in vreemde omstandighede.

Volgens die verslag is minstens 68 joernaliste vermoor wat die welbekende Alison Parker insluit.

Uit die verslag blyk dit dat talle joernaliste omgekom het aan die wreedaardige hand van die IS-terroriste en hulle bondgenote soos Al-Kaïda.

Die moord op joernaliste word wêreldwyd skerp veroordeel en die VN se siening is dat dit as oorlogsmisdaad beskou word wanneer joernaliste in ’n oorloggeteisterde-gebied vermoor is.

Irak en Sirië word as die gevaarlikste twee lande beskou vir joernaliste in die uitvoering van hulle pligte, en oproepe word gedoen dat werkgewers die joernaliste ruimskoots behoort te vergoed vir die uiters gevaarlike werk wat hulle doen.

Naas Irak en Sirië, is Frankryk die gevaarlikste plek vir ’n joernalis, en die afgelope jaar is minstens 8 in Frankryk vermoor.

Sowat 25 joernaliste het gedurende die jaar doodsdreigemente ontvang, maar het tot hede geen aanslag op hulle lewens gehad nie