Pres. Macri triomfantelik ingehuldig

President Mauricio Macri is deur derduisende ondersteuners toegejuig na sy plegtige inhuldiging seremonie verlede Donderdag, waarna hy sy intrek geneem het in die amptelike presidentswoning, die Pienk Huis, vanwaar die skare hom opnuut toegejuig het.

Na die seremonie is president Macri en sy gesin vergesel van die provinsiale president van die Senaat, Frederico Pinedo, en Buenos Aires se goewerneur, Maria Eugenia Vidal, sowel as die hoof van die nuwe kabinet, Marcos Peña.

Verskeie ander hooggeplaastes het die president vergesel na sy nuwe tuiste vanwaar hy die land se korrupsie en wanbestuur wil verander in ’n ware vrye staat.

Die sosialiste se leiersfigure het die seremonie geïgnoreer en slegs ’n verklaring uitgereik dat die vorige president en haar kabinetslede nie die inhuldiging sal bywoon nie.

Regeringslui vanoor die wereld het die seremonie bygewoon, en duisende oproepe, e-posse en boodskappe van gelukwense is aan die nuwe president gestuur.

Met sy intree rede as president, het Mauricio Macri die versekering herhaal dat sy regering sal omsien na die belange van almal in die land, ingesluit die minderbevoorregte volksgenote.

Hy het egter ook die minder aangename onderwerpe aangeraak, en gesê die dwelmprobleem en korrupsie sal sekerlik die aandag kry wat dit verdien.

Hy het die volk gevra om mekaar te respekteer, dialoog te voer met mekaar, en saam te werk in die heropbou van Argentinië.