Onwettige plaasbeleg in N-Tvl

Onwettige plaasbesettings het dele van die Mooketsi-boeregemeenskap die afgelope week ontstig, toe stamlede begin het om woonerwe op landbougrond af te baken en dit teen R750 elk te koop aangebied het.
‘n Dringende aansoek om ‘n uitsettingsbevel is reeds toegestaan om die besetting van die plaas Dorsbult en die verkoop van erwe teen in die kiem te smoor.
Lede van die Kgashane en Mamatlepa stamowerhede het ook dreigemente uitgevoer om plase in die Zwartkoppies-gebied tussen Modjadjiskloof en Mooketsi te beset. Gesprekke met boere het die kwessie ontlont.
Hulle is glo almal vurige EFF-ondersteuners en die verwagting is dat die EFF-leier, mnr Julius Malema, dié naweek die gebied sal besoek.
Die hofbevel is deur mnr Eugene Pohl, seun van wyle mnr Kaspaas Pohl, aangevra teen besetters op Dorsbult.
Pohl snr. het die plaas kort voor sy dood van ‘n familielid gekoop en dit is nou in die hande van boedelberedderaars. Omdat dit nie bewoon is nie, het besetters die kans gegryp om eerste daar te gaan plak.
Wyle Pohl het vroeër vanjaar feitlik al sy eiendom onder die naam Montina Boerdery vir herverdeling aan die regering verkoop.
Dit was ‘n transaksie van meer as R200 miljoen en die grond sou aan die twee stamowerhede oorhandig word. Daar is egter verwarring en plase wat nie hierby betrokke is nie, word ook geteiken.
Foto ter illustrasie