Olieprys tuimel

Die Brent ru-olieprys wat die afgelope maande teen ietwat minder as $50 per vat verhandel het, het die afgelope week verder begin daal en het op Saterdag, 12 Desember, teen $37.93 verhandel. Dit is die laagste prys sedert 2008.

 

Die prys het begin daal toe die Opec-oliekartel nie tot ʼn vergelyk kon kom om produksie in te kort nie. Die swak wêreldekonomie en veral die laer aanvraag uit China het ook meegehelp tot die laer prys.

 

Die lae ru-olie prys tref lande wat meer as $40 per dollar benodig om wins te handhaaf besonder sleg, veral waar olie-uitvoere ʼn belangrike deel van die ekonomie vorm.  Rusland en Nigerië is besonder kwesbaar teen hierdie lae pryse. Selfs Kanada se geldeenheid se wisselkoers teenoor die VSA dollar het gedaal tot die laagste sedert Januarie vanjaar.

 

Die lae ru-olieprys sal ook help om Suid-Afrika se invoerrekening te verlaag, maar met ʼn rand wat aan die begin van die naweek getuimel het teenoor die dollar tot R16.04 word die voordeel van die laer ru-olieprys grootliks verloor. Die rand het vanjaar maar ‘n opdraande pad gehad en het begin teen R11.65 teenoor die dollar, in Maart teen R12.40, in Mei R11.88, in Julie R12.50, September R13.50 en November R14.30.