Obamacare kom vir SA

Die nuwe witskrif van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) se bedoeling het weinig met mediese dienste te make en alles met hoër belastings wat betaal sal moet word.
Dit was die mening van waarnemers met wie DV gepraat het oor die nuwe implikasies van die NGV-witskrif wat Vrydag in die staatskoerant gepubliseer is.
Kenners sê dat hierdie stap verskil weinig van Amerika se Obamacare wat besig is om nou deur al die state van die boeke geskrap te word.
Een-en-twintig jaar van kommunistiese bewind het ons buitendien geleer dat die ANC kan nie ‘n land regeer nie en gee niks om vir gesondheidsdienste nie, het hulle gewaarsku.
Intussen egter sal die nuwe stap die Suid-Afrikaanse belastingbetaler nou 4% kos om die NGV te finansier en sal mediese fondse, soos wat dit nou bestaan, verbied word.
Die NGV is veronderstel om die huidige “pro-rykes”-gesondheidstelsel te vervang met ’n stelsel waar almal dieselfde voordele by staatshospitale en deelnemende private hospitale kry.
Die NGV sal in drie fases geskied en moet teen 2025 afgehandel wees. 
Dr. Aaron Motsoaledi, Minister van Gesondheid, het by die bekendstelling van die witskrif gesê daar kan nie vir 8 miljoen mense (met mediese fondse) goeie private gesondheidsorg gegee word terwyl 42 miljoen tweederangse sorg kry nie.
Hy glo die NGV is die oplossing omdat dit soos ’n super-siekefonds sal werk waar die regering byna die enigste aankoper van mediese dienste is.
Lidmaatskap sal verpligtend wees en private siekefondse sal nie dieselfde voordele as die NGV mag bied nie. Die NGV sal kraamvoordele, dienste vir MIV-pasiënte, tandheelkunde, oogkunde, voorskrifmedikasie, bloedtoetse en nooddienste insluit.
Ingevolge die witskrif sal pasiënte na klinieke, hospitale of diensverskaffers die naaste aan hul woonplek moet gaan. Dit sal ook ontoelaatbaar wees om regstreeks na ’n spesialis of hospitaal te gaan sonder ’n verwysing van ’n NGV-kliniek of -dokter.
Alle hospitale sal ook nie alle soorte dienste kan lewer nie.
Mediese waarnemers sê rolspelers het drie maande tyd om teen hierdie voorgenome stap, wat niks anders as mediese terrorisme is nie, beswaar te maak.