Nog 2 terroriste-aanvalle

‘n Vrou wat Saterdagmiddag in haar motorhuis in Hoopstad aangeval is, is nog steeds in die Mediclinic Bloemfontein onder verdowing.
Niemand is nog in hegtenis geneem weens die wrede aanval Saterdag op Adri Maree (67) nie.
’n Vriend en kollega van haar, Jacques van Staden, het Sondagoggend op haar afgekom, waar sy die vorige dag reeds aangerand en vir dood agtergelaat is.
Die bene in Maree se gesig is gebreek en gekraak. Sy het ook veelvuldige kopbeserings in die aanval opgedoen, maar het gelukkig geen bloeding op die brein nie.
In nog ‘n aanval in die Vrystaat is Thomas Gardiner (76) ook in die hospitaal opgeneem.
Gardiner is Sondagaand in sy huis in Doorn, Welkom, deur ’n groep terroriste aangeval.
Die terroriste het hom met ’n tuinvurk aangeval en ernstig beseer. Hulle het op die vlug geslaan toe die polisie by die huis opgedaag het.
Gardiner is in die Mediclinic Welkom opgeneem en word vir snywonde behandel.
’n Selfoon, beursie en onbekende bedrag geld is geroof.