‘n Plant vir die droogtegebiede

Beeskloutjie vetplant

 

Hoe wonderlik is die natuur darem nie? Daar is plante vir elke gebied, selfs die dorre woestyn het sy pragtige eienaardige plante. Meestal groei die vetplante die beste in die woestyn of dorre gebiede van die land en aangrensende lande.

Hier het ons nou die beeskloutjie oftewel die Lithops optica en dit lyk voorwaar soos beeskloutjies met ligte spikkels op die bokant. Lithops is in die familie Mesembryanthemaceae (vygie familie). Wie sou dit kon dink? Hulle word ook living stone plante genoem, want hulle vertoon soos klippe wat rondlê op die grond. Die kleur en vorm van die beeskloutjies lyk ook soos die klippies en grond waarin hulle groei wat veroorsaak dat mens hulle nie maklik raaksien nie en so word hulle dan ook nie beskadig nie. ‘Lithos’ word van die Griekse woord afgelei wat “stone” beteken en ‘opsis’ beteken voorkoms.

Beeskloutjies bestaan uit ‘n tweelobbige, hartvormige tipe blare wat een kleiner is as die ander een en dit is vlesig. Die stam van die plante is baie kort en mens sien dit nie raak nie. Waar hierdie plante natuurlik voorkom lyk dit of die blare direk uit die grond groei en net die boonste gedeelte is sigbaar, vandaar lyk dit soos beeskloutjies.

Die dik vlesige blare (kloutjies) is in pare, een groot en een kleiner en kry elke jaar ‘n nuwe ‘kloutjie paar’. Die ou ‘kloutjie’ gaan dood en val af sodra die nuwe blaar verskyn en dit veroorsaak dat daar altyd meer vog is vir die nuwe ‘kloutjie’. Elke plant sal meer as een blaarpaar produseer sodat dit ‘n klein trossie op die grond vorm.

Beeskloutjies produseer ook een helder madeliefie tipe blom gedurende die herfs. Die blom van hierdie plant is gewoonlik wit of geel en word gemiddeld 25mm in deursnee en verskyn in die middel van die blaarpaar. Die blomme gaan eers laat in die dag oop en maak weer toe sodra die son sak. Bestuiwing vind plaas deur bye, vlieë, perdebye en ook ander insekte.

Daar sal ook na die blomtyd saad in ‘n saadlob verskyn en hierdie saadlob open wanneer dit klam word en dan kan ons die klein saadjies binne sien. Wanneer dit dan reën skiet hierdie klein saadjies oral rond om nuwe plante te vorm.

Lithops optica was deur dr. Rudolp Marloth in 1909 naby Luderitz in Suidwes Afrika ontdek. Indien u in daardie gebiede woon, kan u die plante met saad groei wat gedurende die warm somermaande gesaai kan word. Miskien is u gelukkig en onthou, vetplante vra nie baie aandag of water nie.

 

Geniet u tuin tot volgende keer.