‘n Goeie voorbeeld van Afrika-demokrasie

Honderde betogende vandale het groot skade en verdere waterverlies veroorsaak toe hulle die sluise van die De Hoopdam in Limpopo oopgemaak het. Die water het sowat sewe uur lank uit die dam gestroom.
Volgens Sputnik Ratau, woordvoerder van die Departement van Water en Sanitasie (DWS) het die betogers die sluisoperateur by sy huis daar naby ontvoer en met geweld gedwing om die sluise oop te maak.
Kontrakteurs wat aan die onderkant van die dam gewerk het, beweer hulle het miljoene rande se skade gely. Inwoners van brandarm plaaslike gemeenskappe is glo nie betyds ingelig om na ’n veilige gebied bokant die vloedlyn te beweeg nie.  Dit is uiters onverantwoordelik van die DWS om so iets te laat gebeur, veral terwyl ons land deur ’n geweldige droogte geteister word, het een van die omgekrapte kontrakteurs gesê.
Tot dusver word die skade op R2 miljoen beraam, maar dit kan nog hoër word.
Geen van die waarskuwingsprosedures is nagekom nie. Kontrakteurs het eers ure later verneem dat daar ’n geweldige vloed water op pad is en dat werkers en masjinerie onmiddellik na ’n gebied bokant die vloedlyn verskuif moet word. Sowat 742 kubieke meter water het verlore gegaan, maar volgens Ratau is die departement nog besig om die presiese omvang van die skade vas te stel. Die betogers was woedend oor swak dienslewering.
Kenners wys daarop dat hierdie nie betogers is nie, maar terroriste is wat sabotasie gepleeg het.
Foto: De Hoopdam