Motsoeneng se tugverhoor duur voort

Na ‘n hakkerige begin en baie slenters behoort die matrieklose SAUK-bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng, se tugverhoor nou nuwe stoom te kry.
Die voorsitterskap van die tugondersoek sal nou onder adv. W.J. Edeling plaasvind nadat die vorige voorsitter, adv. William Mokhari die tugondersoek opgeskort het.
Die rede was weens ‘n hofbeslissing wat Motsoeneng se permanente aanstelling as bedryfshoof tersyde gestel het. 
Die ondersoek vind plaas na ‘n slangnes van bedrog deur die Openbare Beskermer, adv. Thuli Madonsela in 2014 teen Motsoeneng uitgewys is.
Sy het onder meer bevind dat hy gelieg het dat hy matriek het, onregmatige verhogings toegestaan het en die SAUK van personeel wat hom nie goedgesind is nie, gesuiwer het. Sy het aanbeveel dat die openbare uitsaaier tugstappe teen hom doen.
In weerwil hiervan egter het die SAUK hom permanent aangestel.