Motor rubriek – Renault Duster 1.5 dCi Dynamique 4×2

Sedert die Renault Duster sy verskyning op die land se paaie gemaak het, het dit ‘n goeie naam verwerf wat spreek van betroubaarheid, rygerief en ander kenmerke. Vir 2016 is die Duster opgegradeer en een van die eerste veranderings wat opgemerk word is die Renault kenteken op die sierrooster. Dit is nou gemonteer midde twee chroomstroke wat van weerskante af gemonteer is. Die opgradering het plaasgevind tesame met die verskuiwing van die fabriek uit Indië na Mioveni in Romenië. Hierdie fabriek voorsien onderdele aan die Verenigde Koninkryk en die bougehalte van die voertuie is van goeie gehalte. Die Sandero wat hier verkrygbaar is word in dieselfde fabriek vervaardig.

Die buite-afwerking is aansienlik verander. Daar word minder chroom gebruik en die hoofligte se vorm is verander. Nuwe bagasierak monteerstroke word gebruik met die naam “Duster”  wat daarop verskyn. Die sykantspieëls is dieselfde kleur as die van die bak en dit word elektriesbeheer. Nuut ontwerpte allooiwiele word gebruik en truparkeer sensors is deel van die standaard toerusting.

Binne-afwerking is verbeter en leersitplekke is op aanvraag beskikbaar. Elektroniese spoedbeheer is in al die modelle gepas en die 4×4 weergawe is beskikbaar met drie verskillende ratkaste. Die finale aandrywing se verhouding is aangepas en verleng en dit verseker ‘n beter rit op die snelweg en ook ‘n beter brandstofverbruik. Volgens die vervaardiger het die verbruik verbeter van 5.5 l/100 km na 4.8 l/ 100 km.

A.g.v die verandering aan die finale aandrywing het die versnelling van 0 tot 100 km/ u verlangsaam van 11.8 sekondes na 12.2 sekondes en die topsnelheid is verminder van 171 km/u na 169 km/u. Die Duster is in elk geval nie ‘n blitsbuks nie en derhalwe is dit nie belangrik nie.

Die veiligheid van die motor is verbeter met vier lugsakke, vol sitplekgordels, ABS remme met EBA en EBD ondersteuning. Die grondvryhoogte is verhoog en die rygerief is verbeter. Van die bykomende toerusting beskikbaar is ‘n lugversorger, radio, rekenaar, bande vir gebruik op die verskillende padoppervlaktes, vol grootte noodwiel en ‘n langtermyn diensplan.

Vir elke dag gebruik is daar 80 kW beskikbaar teen 3900 o.p.m en die wringkrag van 240 Nm is beskikbaar tussen 1750 en 2250 o.p.m. Die 1461 kubieke sentimeter, enkel nokas, 8 klep, vier silinder, turbodiesel aangedrewe kragbron, doen sy werk met gemak.

Daar is seker groter sportnutsvoertuie beskikbaar wat meer bied maar vir die geld en gerief wat hierdie voertuig verskaf, kan dit moeilik oortref word.