Motor rubriek – Audi Q7 3,0 TDI Quattro

Hierdie motor is een van my persoonlike gunstelinge! Dit laat ‘n mens terug dink aan die dae toe die hoekige Quattro’s  die spreekwoordelike chaos veroorsaak het op die tydrenbane van  Europa. Die 4×4 aandrywing het gedurende 1982 gesorg dat daar min motors was wat met hulle kon kers vashou.  Die eindresultaat was dat Hannu Mikkola gedurende 1983 die Wêreld Bestuurs Kampioenskap ingepalm het. Ander motors het later hierdie ontwerp gevolg.

 

Vandag word dieselfde tegnologie, wat verbeter is, nog steeds deur Audi gebruik.  Wat dit verder interessant maak is dat daar in die Q7, met groot sukses, boonop gebruik gemaak word van ‘n turbo-aangejaagde, V6 diesel kragbron. Die ontwikkeling daarvan is van so ‘n aard dat die motor selfs van die teerpad af, vir veldritte gebruik kan word. Dit is egter nie denkbaar dat ‘n motor van bykans ‘n R1 m in die veld gebruik sal word nie. Behalwe natuurlik vir tydrenne.

 

In die nuutste model vir 2016 is die 4-wiel aandrywing stelsel opgegradeer en stel dit die motor instaat om onder normale rytoestande deurmiddel van die middel ewenaar die kragverspreiding so te doen dat daar ‘n verhouding van 40:60 tussen die voor en agteras bestaan. Sou dit gebeur dat van die wiele hulle greep verloor, kan die krag verspreiding selfs 70% na voor en 85% na die agterwiele, wees.

 

Wanneer die motor in beweging kom word die hoogte bokant die pad outomaties verminder met 25 mm. Die kombinasie van dit en die 4-wiel aandrywing verseker ‘n gemaklike en stabiele rit en die padhouvermoë is van uitstaande gehalte. ‘n Verdere hulpmiddel is die feit dat die kragbron nou laer gemonteer is in die enjinkajuit en derhalwe verbeter dit die padhouvermoë nog meer.

 

Tydens die opgradering van die Q7 is niks agterweë gelaat nie. Die binneruim is vergroot, die kop- en skouerruimte is meer en die sitplekke is meer gemaklik. Die duidelik leesbare instrumentpaneel is regvoor die bestuurder gemonteer en kan deur die stuurwiel wat twee speke het, maklik gelees word. Die elektromeganiese kragstuur verseker dat die bestuurder die motor behoorlik kan beheer en ander handige toerusting is die radio, aanraakskerm vir die onderskeie funksies, lugversorger en nog talle ander handige stukke toerusting.

 

Buite afwerking is van hoogstaande gehalte. Die voorkant is duidelik sigbaar en die vier bekende ringe van die Audi embleem laat jou duidelik verstaan waar dit vandaan kom. Agter op die kattebak deksel is die teken TDI/Quattro gemonteer om aan te dui dat hierdie ‘n motor van formaat verteenwordig.

 

Die tegniese spesifikasies is inderdaad indrukwekkend. ‘n 2967 kub. sentimeter, 90 grade, V6, kettingaangedrewe dubbel oorhoofse nokas, 24 klep turbodiesel kragbron word gebruik. 183 kW is teen 4200 o.p.m. beskikbaar en die wringkrag is 600 Nm vanaf 2000 o.p.m. Volgens die vervaardiger neem dit 6,9 sekondes om van 0 tot 100km/uur te versnel en die topsnelheid is 225km/u. Na verneem word is die brandstofverbruik 8,5l/100 km.

 

Hierdie is inderdaad, ‘n man of vrou met petrol, ek bedoel diesel in hulle are, se droom motor.