Modebase teiken nou kinders

Van die wêreld se grootste modehuise ontwerp nou klere in “kinderformaat” as ’n nuwe manier om nie net die volwassenes as kliënte te trek nie, maar ook die ouers te oorreed om hulle smaak oor te dra na hul kinders.

Die grootbaas van die wêreldbekende Harrods in Brittanje sê dit is ook ’n nuwe metode om seker te maak die kinders ken die ontwerper, wat die geleentheid skep om die kinders as toekomstige kliënte te behou.

Groot modehuise soos Gucci, Christian Dior, Valentino en Fendi het almal hulle ontwerpe vir volwasse kliënte verminder, en hulle fokus geplaas op die jonger gslag wat ook die toekomstige kliënte moet word.

Om ’n getroue ondersteuningsbasis te vestig, is dit nodig om die kliënt op die vroegste moontlike stadium van hulle lewe bewus te maak van die modehuis se naam, word gesê.

Die nuwe rigting het ouers so aangegryp dat die ontwerpers moeite het om voldoende voorraad te lewer, want welgestelde ouers wil juis met hulle kinders s kleredrag hulle eie status beklemtoon.

Die verrassende is dat die ontwerpers nie die prys afwaarts aangepas het vir die kinders se klere nie, wat volgens waarnemers ’n nuwe mark geopen het om ontwerpers se beursies stywer te laat bult.

’n Blou satyn rokkie wat ontwerp is vir ’n agtjarige dogter het die ouers £3,800 (sowat R70,000) uit die sak gejaag,

Die donker kleurige jassie wat van wol is, is deur dieselfde Modehuis ontwerp vir ’n vyfjarige dogtertjie, en is verkoop vir £670 (sowat R13,000).

Waarnemers wys daarop dat die kinders die klere skaars een seisoen lank kan gebruik waarna dit byna nutteloos is omdat dit te klein geword het.