Migrante weier Portugal huisvesting

Die Europese Kommissie wat namens die Europese Unie (EU) optree as bestuursliggaam, moes met skok ontdek dat migrante weier om geallokeer te word na Portugal.

Die Kommissie beskik oor die mag om migrante uit Sirië en Irak te stuur na die onderskeie Europese lande waar hulle gehuisves kan word.

Tydens toedeling moes die Kommissie hoor dat die migrante weier om in Portugal te bly, maar geen redes is verstrek nie.

’n EU woordvoerder sê die sowat 160,000 migrante het te kenne gegee dat hulle verkies om self te besluit waar hulle wil woon, maar weier beslis om in Portugal te woon.

Die Kommissie moes inderhaas nuwe reëls neerlê, en sulke migrante kan voortaan aansoek doen om gehuisves te word in die land waar hulle aanvanklik aangekom het.

Dit beteken dat sulke migrante hoofsaaklik in Italië of in Griekeland sal moet aanbly.

Slegs 17 van die 160,000 migrante was bereid om na Portugal te gaan.

Intussen is verneem dat net 12 migrante bereid was om na Spanje te gaan, met die voorbehoud dat hulle wil verhuis as “iets beter later mag opduik”.