Merkel wil migrante instroming keer

Die Duitse Bondskanselier Angela Merkel het tydens ’n TV-onderhoud gesê dat die aantal onwettige migrante se instroming drasties verminder gaan word.

Dit is ’n beleid van bollemakiesie slaan nadat die kanselier oor ’n lang tyd probeer het om haar “oop deur” beleid af te druk op Duitsland.

Die druk het egter so hewig geword, veral uit Beiere, dat sy uiteindelik moes toegee om ’n politieke skeuring te voorkom.

Met die Christen Demokratiese Unie (CDU) se kongres wat hierdie week plaasvind, het Merkel weinig beweegruimte gekry oor instroming, en moes sy die aankondiging betyds maak om die spanning te verlig onder kongresgangers.

Dit blyk egter dat die konfrontasie tussen Merkel se ondersteuners en diegene met ’n sterk Christelik-demokratiese oortuiging, nie finaal besweer is nie, aangesien die gevoel steeds baie sterk is dat Duitsland met te veel migrante opgeskeep sit.

In ’n nuwe beleidsdokument wat waarskynlik aan kongresgangers voorgehou gaan word, word Merkel se siening uiteengesit, terwyl voorsiening gemaak word vir die kommer onder die meer konserwatiewe kongreslede met ’n plafon wat gestel word oor migrante toelating.

Foto – Kanselier Angela Merkel