Merkel is onder druk van koalisie vennote

Die hedendaagse stilswye van Bondskanselier Angela Merkel word toegeskryf aan die teenkanting wat sy kry in die Europese Unie deur lidlande wat direk teen haar standpunt gekant is oor die toelating van onwettige migrante in Europa.

Aan die anderkant het Merkel nog nie die skokke van die terreuraanval in Parys verwerk nie, en vind sy probleme om haar standpunt te regverdig terwyl sy nou van oral weerstand ervaar.

Haar grootste teenkanting word nou ondervind binne die koalisieregering waar sy direkte teenkanting ondervind.

Die interne aangeleenthede tussen Kanselier Merkel se konserwatiewe Christen Demokrate (CDU) en haar Beierse koalisie vennoot, die Christen Sosiale Unie (CSU) is verlede week in Berlyn bespreek in ’n tweedaagse konferensie.

’n Woordvoerder het later gesê die konferensie was ’n voorloper van die groter byeenkoms wat op 3 en 4 Desember gehou sal word.

Verlede week het Angela Merkel die ergste druk begin aanvoel toe die twee partye die “Berlynse Deklarasie” oor onwettige migrante onderteken het.

Die dokument, wat ses bladsye beslaan, spreek ondermeer die beleid aan oor die aantal migrante wat in die land toegelaat mag word, en die voorwaardes daaraan verbonde.

Die vermoede bestaan dat die dokument ’n demper is op Merkel se entoesiasme oor migrantetoelating, aangesien haar koalisie vennoot, die premier van Beiere, Horst Seehofer, herhaaldelik sy teenkanting te kenne gegee het oor die regering se beleid.

Waarnemers meen die uitkoms van die komende Desemberkonferensie kan deurslaggewend wees vir die toekoms van die koalisie regering.

Merkel kry ook hewige druk van die regse “Alternatiewe vir Duitsland” wat sterk gekant is teen die toelating van migrante in die land, en sy leiers het vroeër ’n beroep gedoen op Merkel om haar bedanking in te dien as Bondskanselier.

Foto –Premier Horst Seehofer