Matrieklose Motsoeneng los

Die matrieklose Hlaudi Motsoeneng, geskorste bedryfshoof van die SAUK is op alle dissiplinêre klagtes vrygespreek.
Motsoeneng was aangekla van growwe oneerlikheid, growwe nalatigheid en misbruik van sy mag.
Die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, het vroeër onder meer bevind hy het gelieg oor sy matriekkwalifikasie.
Die appèlhof het die SAUK in Oktober beveel om wel ’n dissiplinêre verhoor te hou en hom uit sy amp te verwyder totdat dit afgehandel is.
Adv. Willem Edeling, voorsitter van die dissiplinêre paneel, het Motsoeneng nou vrygespreek op al die klagtes.
Oor die matriekkwalifikasie het Edeling bevind die SAUK het destyds toe Motsoeneng as ’n jong verslaggewer aangestel is, geweet hy beskik nie oor ’n matriekkwalifikasie nie.
James Selfe, voorsitter van die federale raad van die DA, het ná die uitspraak in ’n verklaring gesê hulle is nie verras nie omdat hulle nog altyd vermoed het dit sou ’n “klug” wees.
Die DA gaan die transkripsie van die verhoor aanvra en sal vir seker die uitslag op hersiening neem, sê Selfe.