Lugaanvalle dood nog IS-terroriste leiers

Charaffe al Mouadan, die Siriër wat beskou word as die hoof beplanner van die terreuraanval in Parys, is op 24 Desember gedood in ’n hewige lugaanval.

Volgens militêre woordvoerders van die VSA is verskeie ander “senior beamptes” in die terroristegroep se geledere dood in die aanval.

Onbevestigde berigte dui daarop dat minstens tien seniors omgekom het in ’n hewige lugaanval wat deur Amerikaanse vegvliegtuie uitgevoer is.

Steve Warren, ’n woordvoerder van die Amerikaanse militêre operasies teen die Islamitiese Staat (IS), het die inligting bekend gemaak tydens ’n perskonferensie.

Warren sê die terroris Charaffe al Mouadan was besig met beplanning van ’n volgende aanslag toe hy omgekom het in die aanval.

Een van die belangrikste streeksleiers van die IS-magte in die Kirkoek provinsie, het ook omgekom in die lugaanvalle.

Die koalisie-lande wat deelneem aan die oorlog teen die Islamitiese Staat, lewer almal ’n bydrae om die terroriste te vernietig. Australië, België, Kanada, Denemarke, Frankryk, Duitsland, Nederland, Brittanje en die VSA het almal op een of ander stadium aanvalle uitgevoer.