Leeus die volgende teiken

Nazeer Cajee wat 16 leeus op sy wildplaas het, het tussen R300,000 en R400, 000 se verlies gely weens die slagting van twee van sy mannetjies.

Cajee het twee van sy leeumannetjies op sy wildplaas naby Swartruggens in die Noordwes aangetref met hul kop en pote afgesny.

Die driejarige Maxamus en sesjarige Kovu is vermoedelik met vergiftigde hoenders gevoer voordat hulle vermink is. Hy meen hul liggaamsdele is waarskynlik vir moetie gevat.

Cajee sê hy sal R150,000 betaal aan enigiemand wat inligting kan verskaf wat tot die inhegtenisneming en skuldigbevinding van die wreedaards kan lei.

Die polisie het laat weet hulle het vel, been en tande van ’n leeu in Rustenburg gevind. Hulle moet eers DNS-toetse laat doen om vas te stel of dit aan Maxamus of Kovu behoort.

Mense in die wildbedryf het ná die voorval gesê hulle is bekommerd dat leeus nou ook soos renosters gestroop gaan word, veral weens die verbod op die invoer van trofeë na lande soos Frankryk, Duitsland, Australië en die VSA.

In die VSA mag leeutrofeë wel onder seker voorwaardes ingevoer word, onder meer wanneer bewys kan word dis in belang van die voortbestaan van die spesie, sê Wiaan van der Linde, vise-president van Wildbedryf SA.

Hy het die slagting van Cajee se leeus as barbaars beskryf. Hy vermoed ook dit hou verband met moetie-bedrywighede eerder as die verkryging van trofeë.

Van der Linde sê leeubene, -tande, -koppe en -hare is baie gesog onder tradisionele genesers omdat daar geglo word dit gee jou mag. Toordokters gebruik ook dele van die leeu vir dolosse.

Dis glo ook gewild in die Ooste, nes renosterhoring. Daar word leeubene glo selfs vir die maak van wyn en bier gebruik.