Le Pen se waarskuwings bewaarheid

Die waarskuwings wat oor etlike jare gerig is tot die kiesers van Frankryk, het uiteindelik betekenis gekry met die Parys-bloedbad.

Dit is die erkenning wat ’n regeringswoordvoerder in Parys kwytgeraak het nadat dit bekend geword het dat Marine Le Pen se Nasionale Front feitlik daagliks nuwe ondersteuners kry.

Nonna Mayer, hoof navorser by Frankryk se Nasionale Sentrum vir Navorsing sê al die gebeure in Frankryk lei tot Le Pen se politieke voordeel.

Meyer sê terwyl die nasie in vertwyfeling is, en die regering strompel om op die bloedbad te reageer, is die Nasionale Front aan die wenkant omdat hulle vir jare reeds waarsku teen die ongekontroleerde toelating van migrante.

Waarnemers sê dit is geen wonder dat president Hollande so rondhardloop tussen die groot moondhede nie, want die verkiesings op streeksvlak begin in Desember.

Die aanvalle op burgerlikes in Parys is presies waarteen Le Pen waarsku, en het nou die Franse paniekerig uit vrees vir verdere aanvalle.

Mayer sê vrees is nou oral waarneembaar en dit dryf kiesers na die Nasionale Front van Marine Le Pen.

Volgens betroubare gegewens is die Nasionale Front se kandidate op die voorpunt saam met ander konserwatiewes en kan hulle sowat 29% van die stemme kry in die eerste rondte.

Politieke ontleders meen Le Pen het meer as 10% steun bygekry wat ’n beduidende invloed kan uitoefen op wie die land regeer.