Laat ons 2016 met kennis en wilskrag aanpak.

Vooruitgang is altyd ‘n gegewe en kan nie gestuit word nie. Maar as dit ‘n bepaalde waardesisteem, nie net bedreig nie, maar ook vernietig, dan is dit miskien noodsaaklik dat ons hier aan die einde van 2015 net weer onthou wat ons besig is om te verloor.
Die voortbestaan van ons Westerse Beskawing en die behoud van ‘n hoë kultuur is een van die aangeleenthede wat dringende aandag verg.
In die naam van vooruitgang het ons slagveld na slagveld verloor. Op kultuurgebied is ons teaters van ons vervreem, godsdiens, pleks van ‘n samebindende krag, het ons meer verdeel; ekonomies en polities het ons nie meer seggenskap nie.
Hierdie neerlae is nie net ‘n terugslag vir die Westerse Kultuur oor die wêreld nie, maar die beuel wat dekadensie en vernietiging aankondig. Want die Afrikaner staan vir Afrika en sonder die een gaan die ander nie hou nie.
Dit gaan nie langer oor holruggeryde ekonomiese dogmas en politieke plannetjies nie, maar die voortbestaan van die Westerling en die Westerse Kultuur in Afrika.
Diegene wat nou by ons in beheer is, het ‘n lang geskiedenis daarin dat hulle nie die Westerse Beskawing verstaan nie. En soos gewoonlik moet dit waarteen jy nie opweeg nie, vernietig word.
Maar daar is hoop. Die opwekking van ‘n nasie in verknorsing, is ‘n nou-of-nimmer aangeleentheid, want dit gaan oor ‘n keuse tussen lewe en dood.
Dit is nie maklik om die slawejuk van 30 jaar se indoktrinasie af te gooi nie; om ‘n manjifieke idee van vernietigers te red en terug te keer na ‘n orde en iets nuuts daaruit te skep nie.
Maar as die kennis, respek en wilskrag daar is, dan moet dit gedoen word.
Mag ons die nuwejaar met moed en optimisme aangepak.
Aan al ons lesers en vriende ‘n voorspoedige nuwejaar en laat ons steeds skouer aan die wiel sit.