Kubaanse dokters word ingeperk

Die Karibiese Eiland se kommunistiese gesaghebbers het vandeesweek bekend gemaak dat dokters vanaf 7 Desember eers vooraf toestemming moet kry om na ander buitelandse plekke te reis in hulle privaat hoedanigheid.

Gedurende die afgelope drie jaar het sowat ’n halfmiljoen Kubane gereis na ander lande vir hulle eie sakebelange, sê ’n woordvoerder van die regering.

Hy sê meer as 80% van die gevalle word beskou as migrasie van Kubaanse dokters wat professionele werk doen, en verlore raak vir die land.

Die Kubaanse regering blameer glo die VSA se program wat Kuba se goed opgeleide werkers lok om te migreer na Amerika waar hulle gebreinspoel word oor die vorige “Koue Oorlog”.

In Kuba het dokters en verpleegpersoneel begin kla dat die bes opgeleide medici en verpleegpersoneel weg is en gevolglik is daar klinieke en hospitale wat nou ’n ernstige tekort aan opgeleide werkers het.

Opspraak is verwek toe Kuba sowat twee jaar gelede ’n wet passeer het wat dokters en ander inwoners toelaat om vrylik na ander lande te reis, maar die reëling word nou teruggetrek weens die grootskaalse uittog uit die land.

Kuba is glo bekend vir sy goed opgeleide dokters, en tans is daar meer as 85,000 Kubaanse dokters waarvan sowat 25,000 in ander lande werksaam is.

In Suid-Afrika is ’n hele aantal Kubaanse dokters ingebring om die chaos by staatshospitale te probeer regstel.

Gemiddeld 50,000 Kubane migreer jaarliks na Amerika, maar dit blyk dat die regering die uitvloei weer gestop het.