Kommentaar – Wat volg in 2016

Sonder om profeet te wil speel, lyk dit of die jaar 2016 sommer hope probleme gaan lewer vir Suid-Afrika noudat sy naam byna daagliks deur die modder gesleep word deur politici wat nie net onkundig en onverantwoordelik optree nie, maar gewoon onnosel dinge doen.

Die Rand het getuimel weens die president se onbesonne daad om binne vier dae sy derde minister aan te wys wat die bankrot land uit sy gemors moet red.

Die SA Lugdiens is soos ’n vrot appel, niemand het lus daarvoor nie, en gelukkig kon die heraangestelde Finansminister die spul blok om nie nog miljarde nikswerd Rande te blaas op vliegtuig-aankope nie.

Nou gaan hulle die spoggerige goed huur teen onbekostigbare bedrae.

Vroeg in 2016 wend Eskom weer ’n poging aan om miljarde uit die verbruiker se sak te steel om sy duur amptenare se salarisse op te skuif en om sommer betyds voorsiening te maak vir “prestasie” bonusse, en wat nog alles.

Die voedselpryse gaan nog verder styg – die droogte kry skuld daarvoor, nie die gulsige sakemanne nie, en die lae olieprys het deesdae niks te make met voedselpryse nie.

Die Zuma-kêrel sal nog lank verwens word vir die vrot manier van regeer, wat immers nie anders kan nie, want enige ou met ’n graad 5 kwalifikasie doen dit so vrotsig….

Die jaar wat verby is was maar sleg vir elkeen wat sinvol wil lewe in hierdie chaotiese gemors, maar weet net, 2016 gaan baie, ja, baie slegter wees.