Kommentaar – Versugting na vryheid

Dit is nie net die kleiner volke wat smag na vryheid nie.

Alhoewel die meeste groot volke reeds hulle vryheid het, is daar wel die volke soos die Walliesers, die Iere, die Skotte en die Boere-Afrikaners wat smag na volledige vryheid.

In Spanje is die Kataloniërs in ’n stryd gewikkel om uiteindelik af te skei van die oorheersende Spaanse volk, en wil die klein volk nog binne die volgende jaar sy onafhanklikheid bekom.

Die Koerde se stryd verskil nie veel van die Kataloniërs se geveg nie, en die jongste Deklarasie wat opgestel is, dui daarop dat hulle bereid is om in onderhandeling met die Turkse regering, tot ’n vergelyk te kom wat sal lei tot volledige onafhanklikheid.

Klein volke soos die van Estland, wat minder as 1,5 miljoen siele tel, is onafhanklik en het oor etlike dekades bewys dat hulle ekonomies, kultureel, en sosiaal-maatskaplik soos enige ander volk, hulle onafhanklikheid handhaaf.

In Vlaandere is die versugting ewe sterk om van die res van België los te kom, en in Afrika is talle voorbeelde van klein volke wat in onafhanklikheid hulle bestaan voer, waarvan Swaziland waarskynlik die kleinste is.

In die oorgrote meerderheid van strydende volke, word die stryd gewoonlik gevoer deur volke wat voel dat hulle onderdruk word, ’n eie kultuurlewe misgun word, en die reg om in eie volksverband te regeer oor sy eie mense, weens ekonomiese redes ontsê word daarvan, te midde van sogenaamde demokratiese en menseregte verklarings van die Verenigde Nasies.

Terwyl die volke alle moontlike wee volg om hulle vryheid te herwin, is die Boere-Afrikaners nie strydvaardig genoeg in sy strewe nie.

Weliswaar is ’n begin gemaak met kommunikasiemiddele, ’n ekonomiese been het tot stad gekom, maar die oorweldigende meerderheid van die volk staan op die kantlyn en skree vir wat hulle dink gedoen moet word.

Dit staan in kontras met wat die Koerde, die Kataloniërs, en die Vlaamse volke doen.

Sal ons in 2016 met groter eendragtigheid vorentoe beweeg?