Kommentaar – Die euwel van linkse liberalisme

Die eerste rondte in die belangrike voorverkiesing in Frankryk, het die euwel van liberalisme weereens na vore gebring toe die konserwatiewe Marine Le Pen van Front Nasionaal die eerste aanslag oorweldigend gewen het.

Alhoewel die uitslag verrassend was in terme van hoe die oorwinning behaal is, was die mees opspraakwekkende daarvan geleë in die 41% steun wat sy in die noorde van Frankryk behaal het terwyl haar niggie selfs meer steun in die suide van die land gekry het.

Geen wonder dat ’n invloedryke koerant in Europa se hoofberig op die voorblad na die Le Pen-oorwinning verwys het met “Le Pen wals regoor Frankryk”.

Dit is waar die aangename deel eindig, want elke liberale element in Frankryk het nou kragte saamgesnoer om Le Pen tog net te keer om nie die presidentsverkiesing in 2017 te wen nie.

Om dit te doen, het die ware kleure van die linkses na vore gekom. Die sogenaamde konserwatiewes van die voormalige president gaan eerder kragte saamgooi met die vêr-linkse sosialiste van die huidige regering om te verhoed dat Le pen dalk die oorwinnaar word wat die land regeer.

As die twee vyande in die politiek, naamlik die Sosialiste en die Republikeine, skielik hande vat, dan was hulle nog nooit werklike politieke vyande nie.

Vir jare veg die voormalige president van Frankryk teen die president van die huidige regering, net om in die uur van waarheid bes te gee en hande te vat met die sosialiste wat hy glo verag het.

Dit dui op een onbetwisbare feit: Die liberalis se slinksheid mag nooit onderskat word nie, en sy wil om alles te beheer sal nimmer verflou.