Koerdiese separatiste eis selfregering

Verteenwoordigers van die Koerdiese separatiste in Turkye het ’n gesamentlike deklarasie opgestel waarin die suid-oostelike streek van Turkye, Koerdiese onafhanklikheid verkry.

Die verwikkeling het ontstaan nadat spanning tussen die Koerdiese en Turkse gemeenskappe verskerp het in die afgelope maande.

Die Demokratiese Kongres van Mense wat die grootste politieke forum van die Koerde en ’n nie-regerings organisasie in Turkye is, het ’n 14-punt-deklarasie vrygestel gedurende die afgelope naweek waarin selfbeskikking geëis word.

Die Deklarasie is die eerste van sy soort wat deur die Koerde opgestel is waarin die hoofredes vir die streek as outonome gebied, uiteengesit word.

Die Koerde stel dit ook dat die onafhanklikheid deur middel van onderhandeling met Turkye bereik moet word en “demokratiese prosesse” gevolg sal word.

Professor Mesut Yegen, ’n dosent verbonde aan die Istanbul’s Sehir Universiteit, sê die Deklarasie bevat besondere elemente wat in die komende weke ter sprake kan kom in die onderhandelinge wat mag volg.

Die optrede van die Koerdiese separatiste is ’n uitvloeisel van die spanning tussen die twee bevolkingsgroepe en die Koerde se gevoel dat hulle as minderheidsgroep onderdruk word deur die Turkse meerderheid.

Die bal is nou aan die regering van Ankara se kant, en die Koerde verwag positiewe reaksie om enige verdere spanning te vermy, word gesê.