Koekstruif vir Kersdag

“n Koue koekstruif vir Kersdag om die middagete mee af te rond is net die ding in hierdie warm weer. Sommer vinnig om aanmekaar te slaan en u kan hom behoorlik “opbou” soos u wil met allerhande heerlikhede.

 

Bestanddele:

 

1 groot sjokolade rolkoek in stukkies gesny

1 blik kondensmelk

125 ml vars suurlemoensap

1 houer ongegeurde roomkaas of gladde maaskaas

1 blik ontpitte swart kersies

1 blik aarbeie (of vars aarbeie)

60 ml kersielikeur of lemoensap

100 gr geroosterde neute grof gekap

2 sjokolade “flakes”

 

Metode:

 

Klits kondensmelk, suurlemoensap en maaskaas/roomkaas tot glad en hou eenkant.

Dreiner die kersies en aarbeie (indien vars aarbeie gebruik word, sny kleiner)

Pak nou ‘n laag van die gesnyde rolkoek in ‘n bak of afsonderlike glase en besprinkel met likeur of lemoensap.

Pak nou bo-op ‘n lagie kondensmelkmengsel, ‘n lagie kersies, ‘n lagie neute, ‘n klein bietjie van die gekrummelde flake.

Eindig met ‘n lagie kondensmelkmengsel en rond af met ekstra kersies en gekrummelde flake en aarbeie tussenin.

Verkoel vir ten minste 2 ure voordat dit voorgesit word.

 

Resep genoeg vir 6 tot 8 porsies.