Kleuterskool boelie

Gewoonlik as Jacob Zuma beledig word oor die nuutste dom besluit lyk dit soos ‘n nuwe kar wat in die windtonnel getoets word soos al die kommentaar oor sy kop vlieg. Hy word beledig en sleggesê, maar sal nie teruggaan op sy besluit nie omdat hy bloot te dom is om agter te kom dit was verkeerd.

Nou vir die eerste keer gebeur dit anders. Die leier van die kleuterskool bende se eie bendelid het nie net een van sy beste maatjies gestamp en teruggepraat met die leier nie, hy het selfs van die bende se sakgeld teruggehou vir tweede pouse. Dit was die laaste strooi. ‘n Boodskap moes gestuur word.

Wat doen die aartappelkop bendeleier. Sit die kop van ‘n perd in sy bed? Dreig sy familie? Nee, hy gaan steek die steekse maatjie se skooltassie aan die brand, skop hom uit die bende uit en vervang hom met die dom seuntjie met die identiteitskrisis wat nog altyd in die bende wou wees en enigiets sal doen om die leier se goedkeuring te verdien. Natuurlik lê die skooltassie van die gewaande muiter tussen al die ander skooltassies en die hele kleuterskool is binnekort aan die brand.

Skielik besef die kinders in die kleuterskool dat die bendeleier eintlik nie so groot is nie, dat hy nie lag vir dreigemente omdat hy dit belaglik ag nie, maar bloot omdat hy te dom is om te reageer daarop en skielik besef die hele kleuterskool dat hy hulle nog die hele jaar skelm die vinger wys!

Nou beledig almal hom, maar dit is nie nuut nie! Voorheen was hy ook beledig vir dom besluite, maar toe was dit kinders wat bang was vir hom. Daarom formuleer hulle hul beledigings in verhewe retoriek sodat almal kan verstaan hy word beledig behalwe hy. Hierdie keer is niemand bang nie. Almal is kwaad, almal se tassies brand. Nou sou hulle hom beledig op ‘n manier wat selfs hy sou verstaan. Met prentjies! Prentjies of Bakkiesblad en Whatsapp!

Wat gebeur? Siedaar. Die bendeleier word betrap met ‘n natkol tussen die bene. Let wel. Hy bly steeds die bendeleier. Die maatjiestamper bly uitgeskop, die skade is gedoen, maar die leier se ego het darem ‘n houtjie gevat en al is almal bang om teen hom op te staan sal almal altyd in die agterkop die uitdrukking op sy gesig onthou toe hy probeer verduidelik het van die appelsap wat in sy skoot uitgeloop het.

Dit is tyd vir die speelgrondboelie om te gaan. Hy sal waarskynlik net met ‘n ander een vervang word, maar totdat die ordentlike kinders hul eie kleuterskool gestig het sal selfs ‘n afwisseling in boelies al voel na ‘n vakansie!

Tot volgende slag

Die Sweep