Kimberley se gat

De Beers het reeds in 2008 gewaarsku dat die Groot Gat in Kimberley gevaarlik naby aan ineenstorting is.
Dit het tot gevolg gehad dat Bulfonteinweg ten ooste van Die Gat gesluit het.
Volgens Sharon Steyn, uitvoerende hoof van die Noord-Kaapse Sakekamer (Nocci), moes sakeondernemings in die omgewing daarna weens ’n gebrek aan klante sluit.
Nou verwag raadslede van die Sol Plaatje-munisipaliteit dat die mynmaatskappy De Beers moet vir die stabilisering van Kimberley se Groot Gat opdok as deel van hul verpligting om die omgewing waar hulle gemyn het, te rehabiliteer voordat hulle finaal uit Kimberley padgee.
Octavious Matika, speaker, het op ’n nuuskonferensie gesê die heropening van Bultfonteinweg word oorweeg. Dit sal egter net ‘n tydelike oplossing bied aangesien die rehabilitasie van die Groot Gat ‘n langtermynproses is.
Hy sê die munisipaliteit kan nie verkeerdelik verantwoordelik gehou word vir die probleme wat met die moontlike ineenstorting van die Groot Gat en die sluiting van Bultfonteinweg verband hou.
Dit is nie die munisipaliteit wat daar gemyn het of geld gemaak het nie. Dit is De Beers. Hulle het sekerlik ’n verpligting om te help betaal, is sy mening.
’n Woordvoerder vir De Beers, Abel Madonsela, sê indien die straat heropen word, sal die munisipaliteit volle verantwoordelik moet dra, aangesien die maatskappy nie by magte is om strate te open of te sluit nie. Bultfonteinweg is op sy naaste punt sowat 14 m van die Groot Gat af.
De Beers meen die straat moet gesluit bly en dat dit onvanpas is om ’n openbare straat so naby aan ’n oop gat te hê, het hy gesê.