Jong dogter betrap vir spoedoortreding

Die snelheidsperk op hoofweë in Australië is deurgaans 100 km per uur, en verkeersbeamptes is gesteld daarop dat die beperking gehoorsaam word.

’n 12-jarige dogter is egter betrap toe sy laatnag met ’n motor teen 122 km gejaag het terwyl sy nog nie eers kwalifiseer vir ’n leerling lisensie nie.

Sersant Phil Summers van die polisiediens sê die polisiebeamptes was geskok toe hulle die motor laat stilhou en toe ontdek het dat die bestuurder ’n 12-jarige skooldogter is.

By haar in die motor waarmee hulle onderweg was na Perth was ’n 16 jarige dogter en ’n 21 jarige man.

Die jong kind is beboet omdat sy die motor bestuur het, die spoed oorskrei het, en ’n vals naam en adres wou verstrek.

Die polisie woordvoerder het gesê die voorval is ’n voorbeeld van wetteloosheid en minagting van mense se veiligheid wat ook in ander voertuie is.