Johannesburg word vullishoop

Dit kos die vullisverwyderaars van Johannesburg sowat R2 miljoen per dag om berge hoë vullishope te verwyder wat weekliks opgaar in die stad.

Die vullisverwyderaar, Pikitup, sit opgesaal met ’n staking van sy 6,000 werkers, met die gevolg dat die stad soms soos ’n vullishoop lyk.

Die Munisipale Werkersvakbond, Samwu, het met ’n staking by die maatskappy begin wat skynbaar nie gou tot ’n einde gaan kom nie.

In sekere gebiede van die stad is vullis oor ’n wye gebied gestrooi en veroorsaak dat slegte reuke mense huiwerig maak om daar inkopies te doen.

’n Woordvoerder van die vakbond, ene Paul Thabane, het gesê die samesprekings het skipbreuk gely weens die houding en benadering van die werkgewer.

Hy sê die werkgewer het dit onomwonde gestel dat die samesprekings net kan voortgaan as die werkers terug is by hulle werk, wat beteken dat die staking voortduur tot die maatskappy se bestuur besluit het om ernstig te raak.

Die stakers eis ’n loon van minstens R10,000.

Intussen het die vullisverwyderaar inwoners van Johannesburg versoek om hulle vullis uit te sit soos gewoonlik, en dit sal op gereelde basis opgetel en verwyder word.

Pikitup het glo bykomende vragwaens, toerusting en werkers beskikbaar gestel by elke vullis-depot om die werk gedoen te kry solank as wat die staking duur.

Privaat kontrakteurs is ook gekry om sowat 30 ton vullis te verwyder wat ’n gesondheidsgevaar kan inhou.

Verlede week het stakers gewelddadig geword, en moes die polisie tussenbeide tree met die afvuur van rubber koeëls om die geweldenaars te verjaag.