Jagluiperd val vrou aan

Oorsese mense wil altyd foto’s van wilde diere vlak in hulle gesigte neem en selfs Suid-Afrikaners vergeet dat ‘n wilde dier bly wild en is uitgelewer aan sy instinkte.
Hierdie waarheid het Tanya Laubscher-Swanepoel (34), ’n tuisteskepper van Steelpoort, uitgevind nadat sy oor die naweek deur ‘n jagluiperdmannetjie aan die been gebyt is.
Swanepoel en haar drie kinders, Rian (8), Marius (6) en Armand (3), het vir die dag van Steelpoort af gekom om die Mbidi Lodge, wat deel is van die Ramela Ranch sowat 6 km van die Loskopdam, te besoek.
Sy het in ’n stadium alleen saam met van die oord se personeellede by die kamp van die jagluiperdpaartjie Romeo en Juliet ingegaan.
Dit is hier waar Romeo gewys het dat hy net ‘n wilde dier is. Nadat hy met sy kop op haar skoot gelê het, gepurr en teen haar geskuur het, het hy aggresief geraak toe sy wou opstaan.
Sy eerste aanslag kon sy ontuik. Die personeel het hom aan sy harnas gegryp en weggetrek. Romeo het haar egter nader getrek en haar aan die been gebyt.
Die jagluiperd het eers sy greep verslap toe ’n ander personeellid hom met ’n brandblusser gespuit het.
Sy is kort ná die aanval in die Midmed-hospitaal in Middelburg opgeneem waar die wond geheg is en moet later ‘n veloorplanting ondergaan.