Is Hillary die wenperd?

Die Amerikaanse verkiesingsveldtog sal vroeg in 2016 in momentum toeneem, en met verskeie presidentskandidate steeds in die wedloop, kan dinge redelik warm raak vir ’n paar wat tot nou nog weinig bygedra het tot opwinding of bewondering.

Behalwe natuurlik die Republikeinse presidentskandidaat, Donald Trump, wat tot hede daarin kon slaag om met omstrede uitsprake die voorblad en hoofberig in elke Amerikaanse koerant te haal.

Met sy jongste uitspraak oor die toelating van Moslems in die VSA, het Trump sy sukses te vêr gerek, sê die meeste kenners van die Amerikaanse politiek.

Intussen het die Demokrate se voorloper, Hillary Clinton, dalk ’n riskante lopie aangepak om een van die groot donateurs vir haar wedloop te nader terwyl dieselfde persoon se maatskappy in ’n sukkelende projek belê het en daarna weggestap het met ’n aansienlike wins ten koste van belastingbetalers.

Volgens kenners is die skuif van Clinton nie ’n vrugbare een nie, al sou sy ’n groot som geld kon bekom, is daar te veel wenkbroue van ondersteuners wat gelig word.

Die e-pos voorvalle het Clinton vir ’n geruime tyd op die agtervoet gehou, maar kenners meen haar kanse word al beter om die verkiesing te wen as die VSA se eerste vroulike president.

Die Republikeine is op hierdie stadium aan die verloorkant met Trump wat dreig om as onafhanklike kandidaat te staan, wat sal beteken dat die Republikeine se stemme in twee gedeel gaan word, en Clinton dan loshand die withuis sal in stap.

Politieke ontleders meen dat Clinton ook ’n goeie kans het om te wen as Trump die Republikeinse kandidaat sou wees aangesien te veel kiesers nou weg beweeg van sy aggressiewe veldtog.

Foto – Hillary Clinton