Irak hys oorwinningsvlag

Die Irakse Weermag het die landsvlag gehys by ’n regeringsgebou in die stad Ramadi wat voorheen deur die Islamitiese Staat beheer was.

’n Woordvoerder van die Irakse Weermag het in ’n TV onderhoud gesê die vlag kon gehys word nadat die IS-terroriste uit die stad verdryf is en talle gedood of gevange geneem is deur die regeringsoldate.

Die woordvoerder sê die stad is geheel en al bevry van IS-terroriste, en die inwoners kan weer vrylik rond beweeg.

Die brigade-generaal, Yahya Rassool, sê die gewapende troepemag het met ’n anti-terreur eenheid inbeweeg en die terroriste uit die stad verdryf waarna die landsvlag gehys is om inwoners gerus te stel dat alles weer veilig is.

Kenners is egter van mening dat die brigade-generaal dalk grootpraterig kan wees aangesien die goewerneur van die Anbar provinsie gesê het hulle kan nie ’n algemene oorwinning uitroep in die stad solank as wat daar nog IS-terroriste in die stad skuil nie.

’n Weermag offisier van die VSA het gesê hulle kan nog nie bevestig dat die stad deur Irak se magte herower is nie.

Ramadi, met sy 300,000 inwoners is die hoofstad van Anbar,die grootste provinsie in die land, en word van uiters strategiese waarde beskou want die stad is slegs 100 km weg van die land se hoofstad, Bagdad, geleë.

Gedurende Meimaand is die stad binne ’n enkele dag deur die IS-magte ingeneem en moes die weermag soldate die wyk neem.

Mosul is egter die grootste stad wat nog in die hande van die terroriste is, en deskundiges sê dit gaan nie maklik wees om die terroriste daar te verdryf of tot oorgawe te dwing nie.

Dit het die Weermag meer as twee maande geneem om die stad Ramadi met hewige gevegte te herower, maar die gevegte om Mosul te verower sal veel langer duur.