Honderde walvisse dood aangetref

In die afgeleë gebiede van Patagonië, in die mees suidelike dele van Chili is sowat 337 karkasse van dooie walvisse ontdek wat blykbaar gelyktydig op die strand uitgespoel het.

Ondersoekers na die voorval sê dit is die grootste ramp van hierdie aard wat nog opgeteken is in die geskiedenis van die wêreld se seelewe.

Wetenskaplikes is onseker oor die redes waarom so baie walvisse bymekaar was toe die ramp hulle getref het, en dit is onduidelik wat die oorsaak is dat hulle op die besondere plek uitgespoel het.

Omdat die walvisse in ’n afgeleë gebied uitgespoel het, is die voorval eers ’n paar maande later ontdek deur ’n ekspedisie wat die gebied om ander redes besoek het.

Die gebied is verlate weens die moeilike toeganklikheid en kan gewoonlik net per ligte vliegtuig besoek word.

Die walvisse word tot 16 meter lank en weeg gemiddeld 25 metrieke ton.

Toetse het aan die lig gebring dat die walvisse gesond was, wat die vreemde voorval nog meer onverklaarbaar maak.