Gordhan wil geldmors stuit

In sy eerste persvrystelling het die nuwe Minister van Finansies Pravin Gordhan gesê dat geen Suid-Afrikaanse staatsinstelling sal aan die regering voorskryf hoe die instelling bestuur moet word nie.
Waarnemers het gesê dat hulle hoop dat hy dit op onder andere die SAL se Dudu Myeni bedoel het, wat tot dusver die persoonlike beskerming van pres. Jacob Zuma geniet het en die voormalige Minister van Finansies, Nhlanhla Nene se opdragte geïgnoreer het.
Gordhan het ook aangekondig dat daar ernstige “nasionale refleksie” moet plaasvind oor hoe om staatsgeld te bestee.
Die regering moet ernstig kyk na die geld wat hulle uitgee, het hy gesê en bygevoeg dat sommige mense soms vergeet dat hulle verantwoordelik is vir die nasionale beursie. 
Gordhan het gesê hy verwys na enigiemand wat dink die staatsmasjinerie is daar vir hul eie sakke wanneer hy sê die staatsbeursie sal nie langer as ’n speelding gebruik word nie.
Foto: Pravin Gordhan