Gelyk toe ook maar ongelyk

Cosatu eis dat dinge in die drie-party moet verander want hulle voel uitgesluit.
Bheki Ntshalintshali, Cosatu-hoofsekretaris, het op ’n mediakonferensie in Johannesburg gesê die alliansie tussen die ANC, die SAKP en Cosatu moet hersaamgestel word sodat al drie alliansievennote gelyk kan wees.
Sizwe Pamla, Cosatu-woordvoerder, sê hulle word stief deur die regering behandel.
As alliansievennoot steun Cosatu – met sy bykans 2 miljoen lede – die ANC (amptelik) by die stembus, maar die ANC-president wys die ministers en adjunkministers aan en Luthuli-huis besluit wie na die parlement ontplooi word.
Volgens Pamla beteken dit Cosatu stem vir die ANC, maar het uiteindelik geen beheer wanneer dit kom by die uitvoering van beleid nie.
Waarnemers het gesê dat as iemand soos Pamla al agterkom hoe min beteken ‘n stem waar die ANC alles beheer, hoeveel kans het blankes wat so gedwee in die verkiesings stem, dat hulle gehoor sal word.
Pamla stel as moontlike oplossing voor dat die SAKP as politieke party aan verkiesings deelneem en dan in alliansie met die ANC regeer, het Pamla gesê.
Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het gesê hy weet nie waaroor Cosatu ongelukkig is nie. Die kabinet is gelaai met voormalige Cosatu-lede.