Gelowiges en geloftes

Lees: Gén. 28:10 – 22

Ons glo dat God die bestaan van ons volk verseker het deur die oowinning by die Slag van Bloedrivier en dat ons as volk aan die Gelofte wat dit voorafgegaan het, gebonde is. Al meer stemme gaan egter dees-dae op wat vra of die aflê van geloftes geoorloof is. Calvyn het gesê: “Om te verseker dat ’n gelofte wettig en welbehaaglik vir God is, is dit eerstens nodig dat dit  die regte doel nastreef; en verder, dat die mens niks deur ’n gelofte sal toewy wat God nie goedgekeur het nie, en wat Hy nie in die mens se mag of vermoë geplaas het nie.” (Kommentaar op Gén. 28:20.)

’n Gelofte moet vertroue in God openbaar.

Gén. 28:20 – 21 en Num. 21:1 – 3 leer vir ons dat iemand met die aflê van ’n gelofte bely dat hy glo dat alles in die hand van die Here is. Sonder dat Hy beskik wat gevra word, kan dit nie gebeur nie. Daarom moet ware geloof in die almag van God in gebed bely word voor die aflê van die gelofte.

’n Gelofte moet nagekom word.

Die verbreking van geloftes is ’n ernstige oortreding voor God. Dit leer ons in Rigt. 11:30 – 32; Pred. 5:3 – 6; Nah. 1:15; Ps. 50:14 en Deut. 23:21 – 23.

Omdat dit vrywillig gedoen is, moet dit nagekom word. Soos God sy beloftes hou – ook die koms van die Messias om ons te verlos – is ons onder verpligting om ons geloftes gestand te doen.

Geloftes moet God eer.

Die uiteindelike rede vir ’n gelofte moet wees om God te eer. Hoewel ons hulp mag vra in noodsituasies, moet ons altyd aan Hom al die eer gee. Lees Gén. 28:21 en 1 Sam. 1:9 – 11.

Die 1838-Gelofte voldoen aan hierdie vereistes en moet derhalwe gehou word. Die oorwinning het blywende gevolge en so moet God blywend geëer word deur die nageslagte.

Gebed: Here, maak ons getrou in die nakoming van ons gelofte(s) en red ons uit die mag van die duisternis. Amen.