Erfenis-verloëning en erfenis-verwoesting twee kante van een munt

Ons mense is met reg gegrief teen die verwoesting van ons erfenis.

Of dit die dreigende verwydering van Totius se standbeeld in Potchefstroom, ontsiering van die Paul Kruger beeld op kerkplein, Pretoria, of die marginalisering van ons taal en geskiedenis is, elke keer wanneer ons erfenis geweld aangedoen word, word nog ´n stukkie Afrikanerskap vernietig.

Ons ervaar dit knaend met naamsveranderinge, en elke plek- of straatnaam wat verander, verval spoedig in vergetelheid.

Kom ons antwoord sommer uit die staanspoor die liberale koor:

Natuurlik gun Afrikaners ruimte aan ander volkere vir húl geskiedenis en erfenis.

Ons het hulle dit altyd gegun, dit selfs vir hulle befonds!

En ons misgun nie die regime, onregmatig soos hy is, sy regeergesag en reg om nuwe ontwikkelings te noem soos hy verkies nie – maar dan moet hy iets nuut daarstel!

Mense moet raaksien dat die teiken van hierdie verwoesting nie net die fisiese en geestelike nalatenskap van die Eurosentriese beskawing is nie, maar die draers van daardie beskawing – die Afrikaner, die Christen-afrikaner.

Want naas die oorheersing van donker Afrika kan geen mededinger geduld word nie. In Afrika se duister tradisie moet wat bruikbaar is geplunder word, wat oorbly verwoes word.

Maar dit bring ons by die passiewe aanvaarding hiervan deur sowel liberaal- as konserwatiefgesindes.

Baie word ‘gesê’ in die sosiale media, geskryf in die pers, maar baie min word gedoen.

Natuurlik kyk ons nie mis dat standbeelde elders ´n tuiste vind, of nuwe volkseie instansies die lig sien nie – maar selfs diegene kry maar bra min steun, hetsy van geld of hulp, uit volksgeledere.

Net so hoor mens toenemend hoe die nuwe name oral in gebruik is.

Natuurlik gaan ons in die alledaagse omgang tot sekere mate daartoe gedwing word.

Maar is die opoffering te groot om redelike eie benamings ook te gebruik?

Om naas die nuwe, aan ons kinders ook die regmatige naam te leer?

Wie hierin versuim, doen eweveel skade deur die verloëning van ons erfenis, as diegene wat dit deur geweldadige optrede en wetsgeweld pleeg.

Want wie sy kultuur en erfenis nie uitleef, beleef en bewaar nie, staan saam skuldig is die verlies daarvan.