Eksklusiewe Onderhoud

Ervaringe van Europa sedert die Parys-bomme

 Europa sal nooit weer dieselfde wees  nie, en so vreemd soos dit dalk nou mag klink, kan Suid-Afrika dalk na ‘n aanloklike opsie vir die toekoms begin lyk.

Dis die kommentaar van mnr. Henk van de Graaf, Assistent-Hoofbestuurder van TLU SA nadat hy teruggekeer het van ‘n twee weke lange besoek aan Europa.

In ‘n eksklusiewe onderhoud met Die Vryburger het hy vertel wat sy jongste oorsese besoek behels het.

“Aanvanklik was ek genooi na ‘n konferensie in Parys. Dit is ‘n direkte uitvloeisel van my Maart-besoek aan die Europese Parlement in Brussel, waar die plaasmoorde-probleem weer eens onder parlementariërs se aandag gebring is. Dis ‘n konferensie van volksgesinde groepe van regoor Europa, wat veral bekommerd is oor die vlugtelingeprobleem van Europa.

“So het ek dan in Parys geland die middag van Vrydag 13 November. Die aand het die terroriste-aanvalle daar plaasgevind, maar ons was ongeveer vier kilometer daarvandaan en ons dus nie eens bewus van wat in die ander deel van die stad gebeur nie.

“Die konferensie het ten spyte van die afgekondigde noodtoestand voortgegaan, waar ek die geleentheid gebruik het om ‘n parallel te trek tussen die terroriste-aanvalle in Parys, en die terroristestryd van die ANC in ons verlede. Plaasmoorde is voorgehou as ‘n nuwe vorm van terrorisme teen ons mense in Suid-Afrika, en dat dit die vorm van ‘n volksmoord begin aanneem.”

Van de Graaf sê dat die wêreld al tot ‘n groot mate bewus is van die plaasmoorde, en die korrupsie onder die ANC-bewind. “Daarom het ek in die tweede deel van my toespraak baie klem gelê op dit waarmee Afrikaners besig is om, ten spyte van ‘n vyandige bestel, hulleself te organiseer in ‘n staat binne ‘n staat. Daar was die Volksraadverkiesing, ons werk hard aan alle fasette van ‘n volksekonomie, ons spog met volkseie media, ‘n volksgerigte landbou-organisasie en vakbond, ons het eie skole en met ons Afrikaanse taal en kultuur gaan dit in wese goed. Dit het soveel belangstelling gelok, dat een van die manne reeds besig is om te kyk na moontlikhede om hom in Suid-Afrika te vestig en die Afrikaner te help met sy eie opbouprogramme.”

Daarna was Van de Graaf op kort kennisgewing genooi om ook ‘n kort toespraak te lewer by ‘n geleentheid in Antwerpen waar die Europese organisasie Pegida meegevoel betuig het met die slagoffers van Parys, en waar henude eise gestel is vir die sluiting van landsgrense om vlugtelinge buite te hou. Een van die ander sprekers was mnr. Tom van Grieken, leier van die Vlaams Belang. “Daar het ek voor die ongeveer 500 aanwesiges min of meer dieselfde boodskap oorgedra as in Parys, maar met sterker klem op die terrorisme-deel.”

Voor sy vertrek na Genéve, het hy die geleentheid gebruik om ook belangrike kontakte te lê rakende die landbou en die volksekonomie. Die landbou-tydskrif Nieuwe Oogst, het ‘n baie positiewe artikel geplaas oor TLU SA en die kwessies waarmee dié unie hom besig hou.

“Toe die uitnodiging na die Parys-konferensie kom, besef ons dis net enkele dae van die VN se Menseregtekommissie se jaarlikse Forum oor Minderheidsaangeleenthede, en daar is besluit dat ek maar my verblyf sal rek om daarvoor voorsiening te maak,” het Van de Graaf aan Die Vryburger gesê.

“Genéve is heel anders as die res van Europa. Dis ‘n diplomatieke stad wat ander belange het as die res van Europa. Waar die hele Europa nog in ‘n warboel was na die Parys-aanslae, was Genéve heeltemal rustig, asof dit hulle nie besonder raak nie. Na die aanslae in Parys, is ‘n belangrike sokkerwedstryd in Hannover, Duitsland, afgelas as gevolg van inligting wat ontvang is dat ‘n aanslag daar ook beplan word. Later het dit geblyk dat die gevaar in Hanover selfs groter was as wat aanvanklik gedink is. Niemand is egter nog gearresteer nie, en die Duitsers besef dat daardie gevaar dus steeds iewers tussen hulle rondloop.

“Brussel is omtrent omgekeer toe dit blyk dat groot dele van die beplanning, asook van die mense wat in Parys betrokke was, uit die Brusselse voorstad Molenbeek kom. Groot polisieklopjagte is daar uitgevoer, talle mense gearresteer en in een skermutseling is selfs ‘n aantal vermeende verdagtes doodgeskiet deur die Belgiese polisie, insluitend een van die meesterbreine van die Parys-aanslag. Die bevolking voel dus nie veilig nie, en die terroriste het dus in daardie opsig in hulle doel geslaag.  Intussen skiet Turkye ‘n Russiese vegvliegtuig af en een vlieënier sterf. Die toestand tussen Rusland en Turkye is dus erg gespanne, en omdat daar al so baie Turke in Wes-Europa is, dra hulle daardie spanning ook in hulle huidige lande van verblyf in.”

Volgens Van de Graaf is dit interessant om daarop te let dat die terroriste juis lande teiken wat militêre aksies teen die Islamitiese Staat beweging en Sirië uitvoer. Nou wil Nederland vir Frankryk gaan help, terwyl Engeland dit ook oorweeg. “Die bevolkings is nie tevrede met hulle regerings se besluit in hierdie verband nie, want hulle weet dat hulle nou ook die gramskap van die terroriste op hulle sal haal en hulle nou ook kwesbaar maak.”

Die konferensie by die VN was interessant.  Op die eerste dag van die konferensie het VF+ en TLU SA direk na mekaar ‘n spreekbeurt gekry. Beide het die Suid-Afrikaanse Permanente Verteenwoordiger by die VN hard aangevat oor haar optrede by dieselfde konferensie verlede jaar. Die verteenwoordiger het toe aanvanklik twee ordemosies gestel in ‘n poging om mnr. Andre Fourie van VF+ stil te kry. In die een geval het Amerika se permanente verteenwoordiger gesê sy wil graag hoor wat VF+ te sê het.

“Aangesien die forum hierdie jaar gehandel het oor minderhede en die regstelsel, het ons weer die plaasmoorde daaraan gekoppel. My betoog was sterk teen die mislukkings en onwil van die polisie om die boere te beskerm, omdat hulle geen plaasmoordstatistieke wil bekendstel nie, weier om plaasmoorde ‘n prioriteitsmisdaad te verkleer en ook nie belangstel om ‘n spesiale ondersoekeenheid vir plaasaanvalle op die been te bring nie. ‘n Video wat ek van die voorlegging gemaak het en wat ek op die sosiale media geplaas het, het reeds meer as 60 000 mense bereik, wat beteken dat ons boodskap nie gesmoor kan word nie, selfs al het die media in Suid-Afrika die hele gebeure elftalig verswyg.”

Na VF+ en TLU SA se voorleggings, het die SA verteenwoordiger in haar spreekbeurt weer die organisasies aangeval en die rassekaart uitgehaal. “Haar argumente was dat ons slegs plaasmoordstatistieke en beveiliging vir boere wil hê om ons sogenaamde blanke bevoorregting te verskans, en apartheid is natuurlik weer aan die kroesies bygesleep. Ek is genooi deur ‘n amptenaar van die SA missie in Genéve om saam met hom te gaan koffie drink. In opdrag van TLU SA het ek nie my voorlegging aan hom gegee sodat hulle dit weer uit verband kan ruk nie. In ons gesprek was my eenvoudige versoek aan hom om hulle invloed te gebruik dat die Kommissaris van Polisie en die Minister van Polisie, net reageer op TLU SA se versoek tot gesprekke om ‘n oplossing te bespreek. Ons het positiewe voorstelle vir oplossings, maar dan moet dit bespreek word. Ek het hom gesê dat as die SA regering sy plig sou doen, ons nie nodig gehad het om internasionaal te gaan nie. Alhoewel Genéve mooi is, is dit nie vir ons lekker om daar te wees nie: dis ellendig duur en dit was aaklig koud daar. Maar sy regering laat ons geen keuse as om nou maar ons griewe aan die groot klok te hang nie, “vertel Van de Graaf.

“Toe ons hoor watse absolute emosionele onsin en feitelike verdraaiings die verteenwoordiger kwytgeraak het, het ek Ernst Roets van Afriforum gevra of dit moontlik sou wees om sy voorlegging vir die volgende dag aan te pas om op gepaste wyse haar te antwoord. Die volgende dag het hy sy voorbereide voorlegging aan die Sekretariaat oorhandig, en in sy mondelinge voorlegging totaal daarvan afgewyk en die SA verteenwoordiger skitterend op haar plek gesit. Hy het dit uitstekend gedoen, en na die tyd het die drie van ons (ekself, Andre Fourie en Ernst Roets) saamgestem dat dit aangenaam is as mens op so ‘n wyse kan saamwerk.  Die SA verteenwoordiger het weer ‘n spreekbeurt gehad, maar was so gestroop van woorde, dat sy skaars die helfte van die toegelate tyd tot haar beskikking gebruik het.”

Op Die Vryburger se vraag of daar iets positiefs kan uitkom uit al hierdie sake, het Van de Graaf die volgende gesê: “Helaas kom mens nie met ‘n tas vol suksesse terug nie. Om internasionaal te gaan, is ‘n lang en moeisame proses. Dit gaan oor klimaatskepping, en ek glo daarmee is ons besig om beslis te slaag.

“Wat natuurlik interessant is, is dat die vlugtelingeprobleem van die laaste maande, saam met die terroriste-bedreiging van die laaste weke, van Europa ‘n totaal ander plek gemaak het. Waar ons in die verlede, selfs vanuit sekere volksgeledere, nog snaaks aangekyk is oor ons verbintenisse met ‘ekstremistiese’ partye en bewegings, is hierdie groepe skielik nie meer ekstremisties nie. Hulle vertolk nou die gevoel van die bevolking. Daar is ‘n sterk moontlikheid dat binne die volgende vier jaar, van hierdie partye deel van regerings kan wees. Dit kan die prentjie vir ons heeltemal verander, as daar dalk ‘n paar regerings amptelik ander standpunte oor die Afrikaner in Suid-Afrika sou inneem.

“Daarom beskou ek elke besoek en kontak as ‘n belegging in ons toekoms.  As ons kan voortgaan met die skep van ons eie toekoms, gaan ons beslis ervaar dat van die Europeërs na ons Boere- of Afrikaner-Suid-Afrika sal wil kom. Dit kan vir ons baie beteken: hulle bring kundigheid, hulle bring Euro’s wat baie werd is, en hulle versterk ons getalle. Ons sal in ons strategie vir die toekoms, hierdie moontlikheid baie sterk moet inwerk, “ aldus Henk van de Graaf in sy eksklusiewe onderhoud met Die Vryburger.

Foto – Henk van de Graaf voor die VN gebou

Foto 2 – Henk vd Graaf , Tom van Grieken (Vlaams Belang), Reinhilde Castelein, Kristof de Smet (Pegida), Rob Verreycken (Amptenaar Europese Parlement)