Duitsland wil saamwerk met Siriese diktator

In teenstelling met die VSA se beleid om ontslae te raak van die Siriese president, Bashar al-Assad, het Duitsland aangekondig dat hy verkies om samewerking te probeer kry om die IS-terroriste te beveg.

Die Duitse Minister van Verdediging,  Ursula von der Leyen, het die moontlikheid geopper dat samewerking met president Bashar al-Assad verkry kan word om die Islamitiese Staat (IS) te beveg.

Waarnemers sê dit is betekenisvol dat Duitsland direk in stryd met pres. Obama se siening optree wat herhaaldelik gesê het die Siriese president moet uit die weg geneem word.

Wat egter vreemd is, is dat die minister ure later op ’n TV program gesê het “daar is geen toekoms saam met pres. Assad nie”.

Ingeligte waarnemers sê die Duitsers is aangewys op die riglyne wat Frankryk bied, en een daarvan is om Assad se samewerking teen IS magte te kry omdat Siriese soldate in ’n mate goed opgelei is vir grondaanvalle.

Duitsland wil graag solidariteit betoon met Frankryk, en sal enige beleidsrigting ondersteun wat deur sy buurland voorgestel word, al beteken dit dat die rigting en koers direk teen die Obama-bewind se siening is.

Foto –  Bashar al-Assad