Duitsers begroot biljoene vir migrante-sorg

Die Duitse regering beskik blykbaar oor ’n onuitputlike bron van euro’s, want die koste om die onwettige migrante in die land te huisves, beloop biljoene .

Die gesaghebbende Duitse blad, “Die Welt” berig dat die migrante Duitsland sowat 17 biljoen euro in 2016 uit die staatskas gaan kos.

Die sowat 300,000 kinders van migrante, beteken die regering moet vir minstens 25,000 bykomende onderwysers voorsiening maak.

Die koerant wys daarop dat die berekeninge geskoei is op die veronderstelling dat daar slegs 800,000 migrante is.

Dit is egter bekend dat die land reeds meer as een miljoen migrante huisves, en die moontlikheid dat ’n verdere aantal migrante nog kan opdaag, is nie uitgesluit nie, wat die totale rekening kan opskuif na 20 biljoen euro.

Die regering se pogings om kort kursusse in taalvaardigheid aan te bied, het in ’n fiasko ontaard toe derduisende migrante geweier het om daaraan deel te neem.

Die kursusse moes later verander word, en het uiteindelik vier keer meer gekos as waarvoor begroot is.

Die stad-staat Hamburg se woordvoerder het gesê die verskillende state van Duitsland moet hulle posisioneer om die migrante se kinders op te neem in die skole, want “die migrante is hier en ons moet na hulle belange omsien”.

Die Federale Integrasie woordvoerder, Aydan Özuguz, het sienings verwerp dat taal kursusse aangebied word en klasse gegee word aan die migrante, rakende die grondwetlike vereistes in Duitsland.