Duitse parlement debatteer Siriese oorlog

Die verteenwoordigers van die Bundestag in Berlyn het begin met ’n debat oor die moontlikheid van die Duitse Weermag se betrokkenheid in die oorlog teen die Islamitiese Staat (IS) in Sirië en Irak.

Die debat volg op die Duitse kabinet van Bondskanselier Angela Merkel se besluit vir groter betrokkenheid by die oorlog nadat ooreenkoms bereik is met president Hollande van Frankryk.

Ingevolge die kabinetsbesluit wil Duitsland 1,200 soldate in Sirië ontplooi, asook ses Tornado jet-vliegtuie, ’n fregat en ander ondersteunende toerusting sodra die regering finale eenstemmigheid daaroor het.

Die operasie is daarop ingestel om saam met die koalisie-magte te veg teen die IS-terroriste in Sirië.

Kanselier Merkel het aangekondig dat die deelname aan die oorlog nodig is om terrorisme uit te roei in die oorloggeteisterde Sirië.

Sy het bekend gemaak dat die mandaat daarvoor geldig is vir 12 maande teen ’n beraamde koste van 134 miljoen euro.

Die besluit is egter dat die mandaat verleng kan word in 2016.

Die Bundestag van Duitsland sal Vrydag ’n stemming hou om die goedkeuring te kry vir deelname aan die koalisie se operasie.

Meningsvormers verwag dat die stemming oorweldigend ten gunste van Duitsland se groter betrokkenheid by die oorlog sal wees, veral aangesien die twee konserwatiewe partye wat die koalisieregering vorm, ’n sterk meerderheid verteenwoordig.